Die Wimpy Sessies

8 Augustus 2019

Wimpy

Hierdie keer nie met pen en boek nie, maar pretensieus met ‘n silwer laptop sodat dit lyk of ek werk. Sal die mense se staar weer my paranoies maak. Sal ek my steur aan hul, hoe is my angstigheid deesdae? Sal hierdie my nou toets? My oorfone op en my gedagtes heel in toom. Ek werk oor ‘n paar ure en hier sal ek eers kom skryf. Dis my kantoor, weg van die wêreld wat my so bekommerd maak.  Ek het lanklaas hier kom sit en kreatief probeer verkeer. Nou in plaas van pen en boek sal ek ‘n nuwe folder create, “die Wimpy sessies”. Of ek dit gereeld sal doen weet ek nog nie, maar kom ons kyk of die teks verskyn. Ek sal dit apart hou en so elke nou en dan kom terugkyk, net om te sien wat verander en wat dieselfde bly. Ek wonder ook of dit heeltemal anders sal wees as dit wat ek in my kamer skryf, of by die dam, of as ek kuier by die Royal hotel.

Ek mis daardie plek, maar ek wil nie teruggaan nie. Nie as inwoner nie ten minste, miskien binnekort as besoeker. Net om hallo te sê, om te gaan wys ek is nog ok. Ek wonder soms of hul nog wonder oor my, oor wat van my geword het en of hul miskien vir my dokter vra en op hoogte bly. Die mense wat ek daar ontmoet het speel steeds ‘n rol in my lewe. Die lesse wat ek daar geleer het bou steeds aan hoe ek myself gedra in die samelewing en die stories uit hul lewens maak my steeds dankbaar vir wat ek het en nog altyd gehad het. Dalk is dit weer tyd vir ‘n reunie, maar is hierdie plek maar nie juis ‘n wegbreek nie. Is die vriende wat jy daar maak nie juis net vir daar nie? Ek sukkel nog altyd om kontak te behou met die mense wat ek daar ontmoet. Beloftes word altyd gemaak en gebreek. Sien jou weer, binnekort, maar sal dit werklik gebeur? Ek mis julle, baie, maar verlange laat my hart sterker word en meesdal is dit goed om nie altyd herinner te word aan ons omstandighede nie. As jy jouself kwesbaar vind soos daai deel jy dalk te veel, of jy steek juis baie weg. Ek het myself baie daar vermom en die persoon wat jul ontmoet het is dalk net die lighartige, vriendelike persoon met baie stories, sal jy egter hou van my donkerkant. Sal jul my in dieselfde lig sien as die ligte verdwyn?

Ek onthou veral die jaar toe ek te vinnig oorgeplaas is. In saal 8 het Dr Vos my gesien en soos altyd het ek normaal voorgekom terwyl ek eintlik nog baie naby aan die drumpel van die trip was. Ek was in en uit, een dag hier en hy het besluit ek is gereed vir die diep psigiese delwing van Saal 15. Sure, ek was al meer as ‘n maand in die sale, maar die Royal hotel moes seker nog wag vir so week. Wie is ek egter om beter omstandighede te weier en binne ‘n dag was ek daar. Ek was in my goue zone, my anker, my huis weg van die huis af. My gunsteling plek in die wêreld anders as Sonstraal dam. Hierdie was gevaarlik, maar vir die eerste paar dae het ek goed my pose gehou. Ek het die realisme behou en slegs op my eie met my pen en boek my fyn lyn van ekspressionisme oortree. Daar waar ek niemand kon seermaak nie. Dit is ook belangrik om te weet dat in hierdie tyd was ek versot verlief, basies het ek ‘n ekstra faktor van geluk gehad wat bygedra het tot my hoë gemoed en dat dit my langer sou vat om af te kom.

Ek onthou alles, en almal van daardie jaar. Hoe ek was, wie ek was en wat ek als gedoen het. Ek onthou egter nie alles wat ek gesê het nie, want al was ek oortuig alles was goud werd, weet ek ek het meesdal mense irriteer en ongemaklik gemaak. Die mense in hierdie saal ken nie die ander sale nie, nie almal nie, en ek wou aanvanklik hul beskerm daarteen, maar na ‘n paar post pil lagsessies in die rookkamer waar almal hul stories deel het hul my begin uitvra en ek het te veel gedeel. Stilte sou beter wees, maar die wag voor my mond was ook nie bestaande nie. Hier het alles begin en ek het begin besef ek is nog nie gereed vir hierdie nuwe intellektueel en emotioneel onstabiel grys area mense nie. In 4, 5 en 8 was als swart en wit en slegs chemie en roetine. Daar was die enigste gevaar die karakter wat langs jou slaap in die aand. Hier is die gevaar egter erger, dit dring in jou psige in en vra jou vra wat jy lank reeds weggebêre het. Dit krap wonde van die verlede oop en los jou dat jy bloei op jou eie. Hier is daar mense wat kla oor die kos en die min aandag. Hier kla die mense oor hul medikasie al weet hul niks daarvan nie. Hier is roetine wat jy daarvan maak, en hier hang jou genesing meesdal van jouself af. Hier is dit dus gevaarlik om te veel kennis oor jouself te hê, en dit is wat my in die gat gebyt het.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek was versot oor hierdie nuwe uitdaging van persoonlikhede wat kon relate aan van my stories en belangstellings, maar om te veel emotionele vryheid te hê het my grense vernou, en die krisis was oppad. Dit het begin na my eerste uit-naweek. Die eerste keer wat ek hierdie stuk land kon verlaat en my tuiste gaan besoek. Ek het gans te veel planne gemaak en sou dit als behalwe rustig vat. Hier was my fout, ek was nie rustig nie. Daardie dag in die kar oppad uit het almal in my lewe dit besef behalwe ek. Die skade is gedoen en daardie aand is ek vroeg terug geneem. Op die oomblik kon ek nie verstaan nie, maar ek het dit aanvaar. Ek was oortuig ek was net ‘n ander mens nou en het besluit my familie sal maar net gewoond moet raak aan hierdie nuwe en beter WP. Daardie week sou alles omdraai. Hoe die dokters dit nie gesien het nie weet ek nie, maar ek act nog altyd baie goed en het seker maar onder hul radar beweeg. Hul het my seker beskou as ‘n maklike geval waaraan nie te veel aandag verlang word nie. Ek sou binnekort egter vir hul mooi laat verstaan.

Ek het wakker geword die dag, weereens te vroeg, en het my pad gevind na die tv kamer. Daar het ek gesit en musiek geluister, nes al die tye van te vore het die lirieke met my gepraat. Ek het gelag, ek het gehuil, daar op my eie. Ek was heeltemal mal, maar rustig en het niemand gepla nie. Dis toe dat die nagsuster aan diens my daar gevind het, seker op sy rondtes, en my geskel het. Ek het nie verstaan hoekom nie, want ek het die nurse vir toestemming gevra. Ek beweeg toe maar terug na my bed toe en wag vir die son om sy verskyning te maak. Na ander uit hul drome die gange begin aandurf het, het ek besluit om weer te probeer kyk of ek nou maag opstaan. Daar was ‘n vorm van opwinding oor my en ek het seker geweet dit sou ‘n eventful dag wees. Dit was nie lank na ontbyt nie en daar was ‘n groepie, ek kan egter nie veel daarvan onthou nie. Ek onthou egter ek het iewers my pad gevind na die dokter se oornag kamer waar hul bly as hul spoed. Ek het besluit dit is my spesiale flat in saal 15 wat hul na al my kere hier vir my ingerig het. Daar was ‘n bed, ‘n stort en selfs internet konneksie. Dit was perfek en ek het dit beskou as myne. Nie te lank daar binne het ek besluit ek wil nou loop, maar die deur was gesluit van buite af. Nou wat nou? Na so halfuur van files re organize in die lessenaar en toeplak met hospitaal stickers wat ek daar gevind het, het ek besluit dis tyd om te gaan. Ek spring toe deur die venster en was vry. Rustig het ek om die saal geloop en ingestap by die voordeur. Ek het besef ek is seker in die moeilikheid as hul my gesoek het, maar hierdie saal het nie kameras soos die ander nie. Niemand het my gesoek nie, en ek dink niemand het besef ek is weg nie. Ek besluit toe om my avontuur voort te sit, en het op een of ander manier die ECT saal se hek oopgesluit en ek is daar in. Na ‘n geruime tyd van rondspeel en myself oortuig ek is besig om my spreekkamer in te lyf, na die bewondering van wat aangaan en dat ek die middelpunt van alles is, het die matrone my gevind en my ticket was gebook. Planne sou nou gemaak word, en dit was terug na saal 5. Ek het geweet wat kom en vir meeste was dit nie ‘n skok nie. Ek het een lap gehardloop, maar hierdie was ‘n maraton, nie ‘n resies nie. Nou was dit tyd vir die tweede lap, en hy sou dieselfde wees as die eerste maar met ‘n ander eindpunt.

Die Royal hotel soos ek hom noem, of altans Intlalo clinic of saal 15, is die gevaarlikste saal in die hele gronde van daardie hospitaal. Jy ontdek jouself daar. Dis die gevaarlikste om rede dis die naaste aan die wêreld hierbuite. Die rookkamer is soos die Wimpy waarin ek nou sit. Hier is die mense egter nie bekend aan my nie. Ek weet nie wat hul probleme is nie. Ek sien slegs hul gesigsuitdrukkings en kan net wonder. Wat is hul seer, en met wie praat hul daaroor as hul doen. Ek kom praar met jou, my wimpy sessie folder. Miskien deel ek wat ek hier sê, miskien nie. Ons sal maar sien. Vrede

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s