Die klankbaan van my lewe

Is dit ooit moontlik? Ek hoop nie dit kom voor asof ek iets forseer nie. Woorde is droog soos ek nog ‘n sluk van my whisky vat. Daar is hopelik niks vreemd hieraan nie. Ek is jammer ek het so lank gewag. Ek skuld jou ‘n verduideliking, maar om eerlik te wees was ek net nie lus nie. Kreatiwiteit is haar eie monster en ek was gans te lank bang vir haar. Om te sê ek skryf weer is om te sê ek eet weer. Ek het nooit opgehou nie, want mens hou tog nie op om asem te haal nie tensy jy dood is. Om dit weer te deel, dis anders ja, maar ek voel ek soek weer terugvoering. Miskien soek ek net daardie smiley face of thumbs up om myself beter te laat voel.

Musiek is die tema van die dag. Musiek het altyd ‘n sagte en harde plek in my hart. Dit was nog altyd daar. Goed of kwaad, die klankbaan van my lewe het al ‘n paar keer temas verander. As jy die tydlyn van jou musieksmaak vat oor die jare sal dit jou sekerlik ‘n goeie idee gee van die tipe verhaal wat jou lewe geneem het, hierdie is ten minste waar vir my. Sure, daar is ‘n paar bands wie se klank hul eie verhaal vertel, en dis vansselfsprekend dat die wat so lank op die scene bly nie nou dieselfde klink as sê 16 jaar terug nie. Ek is baie so, mens kan sê my genre is dieselfde as 16 jaar terug, maar ek klink nie meer dieselfde nie. Die lirieke van my lewe het ook baie verander. Die betekenis daarvan en die kompleksiteit daarvan.

16 jaar terug was dit veel eenvoudiger. Ek het gesukkel met tienerangs en puberteit, onbeantwoorde vrae oor geloof en hoekom ons mense moet verloor. Swart en wit issues en wat ek wil word eendag. My gekose musieksmaak was bands soos POD en om Woensdae en Sondae saam te sing by Praise and Worship. Om my hande te klap en te glo wat ek sing. Dit was my terapie en dit was die klippe waarop my fondasie gebou is. Die kerk het ‘n groot plek in my hart gehad en God was die Een wat antwoorde tot al my vrae gehad het. Eers in graad 10 was dit nie meer genoeg nie. Die kompleksiteit van my soektog na antwoorde kon nie meer gesis word deur “This little light of mine” nie. Ek het ‘n identiteitskrisis beleef en weggeskyf van die aanvaarde norm van die kerk. Die agtergrond musiek het ook anders begin klink soos Fokofpolisiekar lirieke meer antwoorde begin bied het as Bybelversies. Dit was hard, dit was verfrissend eerlik en dit was Afrikaans. Dit was van my tuisdorp uit skole wat ek geken het. Dit het gevoel soos jou vriende wat met jou praat en ek kon relate. Dit het op die regte tyd gekom uit ‘n oogpunt wat nie te ver van my eie was nie. Dis nie te sê die kerk het heeltemal sy houvas op my verloor nie, ek was steeds betrokke. Daar was net meer van ‘n gesonde wegbreek vir my, iets bietjie anders om die konstante goedwees te balanseer. Dit was house parties en drink en rook en vry om die hoekie. Dit was die cool kids en skate board en bmx ry. Dit was desember kampe en VCSV en SR. Dit was ‘n goeie mengsel van goed en kwaad, alles in balans. My twee pole was beide aan die voorgrond en ek kon beheer uitoefen.

Op universiteit het my horisonne natuurlik oneindig geskyf. Dit was ‘n nuwe wêreld, ‘n nuwe hoofstuk en nuwe klanke. Ek het nuwe betekenis in die classics gevind en was ook redelik geintresseerd in bands soos die Heuwels fantasties. Dit was iets nuuts, iets anders en nie te ver van wat in my eie lewe aangegaan het nie. Weereens het die klankbaan van my lewe ‘n nuwe tema gekry. In 2009 sou alles verander. Die play wat ek besig was om te skryf het letterlik my lewe geword, die lirieke het my bestaan geword en musiek het fisies oorgeneem. Musiek het dus verander van my terapie na my grootse vyand. Wanneer jy nie kan onderskei tussen realiteit en wat jy hoor nie, kan dinge nogal deurmekaar raak. Musiek het ‘n nuwe betekenis in my lewe geneem en ek sou nooit weer met dieselfde ore luister na van my gunsteling songs nie. Dit het verander van antwoorde op vrae na ‘n nuwe soektog na hoekom. Dit het ‘n konstante herinnering geword na wat in my brein wegkruip. Dit was die gateway drug tot iets wat ek nou nog nie kan verstaan nie.

Vir die eerste keer in my lewe was my klankbaan nou gevaarlik. Dit kon en het skade aan my verrig.

Jare later weet ek dit sal nooit verander nie. Na daardie jaar luister ek steeds baie versigtig na enige nuwe cd van die heuwels. As ek by ‘n show is van my gunsteling kunstenaar moet ek steeds myself soms herinner hul ken my nie.

As iets so onskuldig soos musiek gevaarlik kan wees mag jy dalk dink dis ‘n bad deal, maar ek sal dit verruil vir niks. Die musiek het betekenis vir my. Dit hou my op my tone en ek waardeer elke woord, elke klank en elke liriek. Ek relate. Nes jy. Ek lewe daarvoor, ek kan nie lewe sonder dit nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s