Die Woensdag Buite-Pasiënt

Dis weer daardie dag, die een dag in die maand waar my oggend nie my eie is nie. Die dag van herinnering, van op-check, van gesigwys en hallo se vir al my vriende van tye lank reeds verby. Dis my gronding dag, die dag waar verskeie mense seker maak net hierdie een dag bly nodig.

dark-filling-station-gas-92077Al is my afspraak altyd 9 uur die oggend, weet ek hierdie is nie ‘n reël nie, slegs ‘n riglyn. Ek kan laat slaap en staan gewoonlik so 11uur se kant eers op. Nadat ek my blou kaartjie soek en dit nie vind nie, trek ek aan en hoop ek het onthou om genoeg petrol in my kar te hou om dit ten minste tot by die Engen te maak want ek was weer gisteraand te lui om daar te stop. Van uitstel kom afstel – totdat ek weer gaan moet loop met ‘n leë bottle na die naaste pomp. Die wit Corsa brom aan en my oorfone is in. Wat sal dit vandag wees? Bietjie fokof nostalgie? Of voel ek braaf en sit beitjie Heuwels op? Dimpel maak dit tot by die garage en die joggies spring om my te help. Hulle weet al watter dae ek net by die winkeltjie stop en watter dae hierdie geroesde vier wiele sy vloeistowwe moet kry. Hulle dokter alles vandag, sit olie in, vul die water op en pomp al 4 wiele twee bars, alles terwyl ek my verversings vir die volgende paar ure kry, my twee rooi suikervrye Monsters en ‘n pakkie Pall Mall blou. Soos ek uitstap kondig die luidspreker af “Pump 5 customer paid”. Die joggie maak soos altyd bietjie small talk soos ek my beursie weer uithaal en die kleingeld sakkie leegmaak in sy hand.

Hierdie is my oggendroetine op ‘n Woensdag, altyd dieselfde Engen, altyd dieselfde eerste stop voor ek die res van die dag aanpak. Sien dit maar as die buite pasient dag vir my kar ook, want sy het ook so elke nou en dan ‘n ordentlike check-up nodig.

Dis ‘n kort pad hospitaal toe, slegs een of twee draaie met een lang stuk pad waar daai donnerse spietkop gewoonlik sit waarvan ek altyd vergeet. Soos ek ry berei ek myself voor. Ek dink solank wat vandag se topics sal wees. Sal daar vandag ongemaklike vrae wees? Is enige iemand tans bekommerd? Tree ek bietjie vreemd op? Is ek op enige iemand se radar? Sal als dieselfde bly? Gaan almal tevrede wees? Wil ek iets bespreek, is daar iets wat my pla? Deesdae is hierdie ‘n dag waar ek gemaklik voel om eerlik te wees. Ek wil niemand se tyd meer mors nie, veral nie my eie nie. Van stilbly en wegsteek het ek al baie skade aan myself en ander gedoen. Nou gebruik ek hierdie dag tot my voordeel.

By die hekke van hierdie stukkie land buite Bellville ken die wagte al die klein wit gevaar wat nou om die draai kom en voor die beam stop. Hul sit sommer die inteken boek weg en lig solank die beam op sodat ek kan deurry. Nou moet ek stadiger ry, want hier is ‘n menigte hoeveelheid mense wat in gholf karretjies en op fietse rondry. Drawwers maak ook hul verskyning soos ek weereens besef hoe mooi hierdie gronde is, al is dit omsingel met tralies en elektriese drade.

Die gebou waar ek nou moet aanmeld is naby aan die ingang, maar soms vat ek ‘n detour en ry verby al die sale waar ek al ‘n inwoner was. 5,4,8,15, gewoonlik in daardie volgorde. Ek doen hierdie net soms, dit help om my eerlik te hou, dit help dat ek niks wegsteek nie, want hierdie is plekke wat ek wel koester, maar nie graag weer sal wil besoek nie. Ek verkies buite pasiente, die klein gebou waar ek kom en gaan nes ek wil, in my eie klere, gewillig en gesond, sleutels in my sak, sigarette in my hand.

Wanneer ek die parkeer terrein benader sien ek gewoonlik altyd dieselfde karre. Ek weet watter een pas by wie, wie nuut is (seker ‘n nuwe rotasie of ‘n student) en watter susters aan diens is. Ek sien die regular inwoners van New Beginnings of die permanente sale wat heeldag hier sit en hoop vir handouts – alles van los sigarette, ‘n R5 vir ‘n pakkie twak by die snoepie of selfs net geselskap. Hul mag nie eintlik hier wees nie, maar niemand keer hul nie. Hulle is net so deel van hierdie gronde soos die dokters wat hier wil of moet wees. As hul my kar sien intrek sal daar gewoonlik dadelik beweging gemaak word om te kom groet, want hul weet ek gee maklik sigarette weg en sal altyd in my kar of beursie kyk of iets oorgebly na die stop by Engen.

Onderliggend is daar altyd ‘n effe angstigheid wat oor my val as ek deur hierdie gebou se deure loop-gaan ek vrywillig weer hier kan uitloop vandag? Met tyd het hierdie angstigheid effe stiller geraak, maar ek dink dit sal altyd daar wees. So ek meld aan – sonder my kaart – en stap dadelik weer uit. Hierdie is my annkom roetine. Al reën dit gaan sit ek buite, want as ek daarbinne sit in die wagkamer voel ek vas.

Die Pall Mall kom vinnig uit my sak en ek raak rustig met die nikotien wat vinnig deur my are loop. Dan begin die gesels.

Almal wat ook daar wag is meesdal bekend aand my, want ons dae is altyd Woensdae, en saam met meeste van hierdie mense was ek al oor die jare heen iewers in ‘n saal saam – of ek ken hul van buite pasiente. Daar is ook ‘n paar wie se gesigte ek ken, maar nog nooit twee woorde voor gesê het nie. Meeste mense wat hier buite sit en wag rook, en hul het nooit hul eie sigarette nie. As hul sien jy het ‘n pakkie, dan sal jou pakkie vinnig verdwyn. Maar ek gee nie om nie, dis my vorm van betaling aan die staat, want ek dink ek het jare laas ‘n sent hier betaal. Hulle vra my nie eers meer nie.

bench-black-and-white-resting-90639.jpg

Gewoonlik wag ek ook nie te lank nie, dis juis hierdie rede dat ek eers mik om rondom twaalfuur hier te wees. Teen hierdie tyd is my Dr se pasiente meesdal klaar en sy sien my dadelik voor sy seker lunch gaan vat. Sy sal my al selfs bel om te hoor of ek oppad is, of hul sal haar bel as ek kom en sy nie by buitepasiente is nie. Dis lekker om altyd dieselfde dokter te hê. Dinge verander min en elke maand groei ons saam. Sy was al baie kwaad vir my en ek vir haar, maar ons is steed by mekaar en sy ken my redelik goed. Goed genoeg om so min as moontlik te verander aan my shit. Sy is ook glad nie te bad as ‘n sielkundige nie, maar haar tyd is wel baie min, so ek hou dinge maar meesdal opgesom.

Sy roep my in dieselfde konsultasie kamer as altyd, haar kantoor, en sy vra hoe dit gaan. Sy begin altyd met daardie vraag en die gesprek ontwikkel van daar gebaseer op hoe ek hierdie vraag beantwoord. Die gesprek duur gewoonlik so 15 minute en as dit ‘n relatiewe “normale”maand was, groet ons tot volgende maand. Baie hang ook af van die suster wat my by die flat kom besoek wat rapporteer aan haar. As hy gelukkig is, is sy gelukkig en ek kan voortgaan met my onbesonderse bestaan, nes hul dit verkies.

By die kantoor uit bly die roetine altyd dieselfde, ek wag so paar minute vir my medikasie, die suster vat my in ‘n behandelingkamertjie in en steek ‘n moerse lang naald in my boudspier en ek loop so effe seer na die apteek om te sit en wag vir die res van my pille. As ek daar klaar is, is dit huis toe gaan tyd en my maandelikse besoek is verby. Oppad kar toe sal ek altyd voorgekeer word vir geld of sigarette.

Ek is vas aan hierdie stukkie land. Ek moet elke maand kom besoek. Ek het dit nie gekies nie – die besluit is vir my gemaak deur kragte buite my beheer. Ek is nie al een in dié situasie nie. Vir ‘n lang tyd het ek net gedink aan hoe onregverdig dit is. Maar hoe meer ek kom, maand in en maand uit, hoe meer besef ek hoe baie mense is in dieselfde bootjie, en hoe gelukkig ek eintlik is. Ek besef al meer wat met my sou gebeur het as hierdie plek nie bestaan het nie. As daar nie professionele, opgeleide mense was om met ons te werk nie. Fok weet waar ek nou sou wees, of ek nog hier sou wees. So ek sluk maar die bitter pil van een dag ‘n maand myself beskikbaar stel. Roetine is gesond en hierdie dag is deel van my roetine.

Soos ek stop by die beam kom die wag om my boot deur te soek, en vir die 8ste keer hierdie jaar sê ek vir hom die boot van my fucked-up corsatjie maak nie oop nie. Reluctantly lig hul die beam en ek ry weg, tot volgende maand.

2 thoughts on “Die Woensdag Buite-Pasiënt

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.