10/10/2017

 

Goeie môre my sonskyn, ek bly jou kind. Ek stap nie meer hierdie pad alleen nie, ek ry op jou wind.  Die dwelms wat kom maak my bekommerd. Vandag is ‘n hoër dosis sodat die hoë demoon verder getem word. Is dit dalk te veel? Wanneer is dit nou genoeg? Ek is te moeg. Konsentrasie sukkel soos ek verder my gevoelens deel. Dis nie ter wille van my nie, maar ter wille van die son, ja. Die pil is nie meer bitter nie, ek proe dit skaars. Vir Kersfees sluk ek niks, dit is my geskenk aan julle. Vertroue wen ek terug in hierdie lang spel, hierdie lang geveg. Die tweekantspel is lankal nie meer eensydig nie. Ons praat saam daaroor, dit is nou ‘n gesprek. Ek steek steeds baie weg, ek kom lê dit hier neer vir jou, my pen en boek. Daar is soms skade in eerlikheid, maar ek stap ‘n harde pad en teer my nalatenskap.

 

Die lig aan die einde van hierdie tonnel is helder, maar die verskaffer se elektrisiteit is min, so ons jaag nie, maar sit eerder die trein se ligte aan, want die spoor is konstant. Tussen die stasies is die treinspore betroubaar. Tussen die treine, tussen hierdie dubbelsinnige lyne, sal ek wag vir jou. Selfs al kom ‘n trein van beide kante en ek staan in die middel, weet ek ek is veilig solank ek stil staan en wag vir jou. Die konstante in my boudspier laat my sukkel om vinnig te beweeg. Dit maak my rustig, dalk te kalm, maar dis ok. Dit verdoof my verslawing. Dit maak my nie voel baklei nie. Dit hou my weg van die goeie. Dit hou my weg van die kwaad. Nie te vinnig, nie te stadig, net reg. Dit is in my bloed, baby. Dit klop oral vanaf my hart op die beat van my musiek. Ek sing in tale, maar verkies my moedertaal. Voor die stof jou of my kom haal wonder ons wat van ons gaan word. Dis kak om klaar te weet, maar goed om meestal te vergeet. Ek weet ek’s soms versigting en ek weet ek’s gans te wys, maar onthou die katvoet klong wat versigtig oor die klippe loop, die blinkkant bo hou en die son op sy gesig verkies. My blou oë skyn helder soos ek sterre kyk. In my ma se hart is ek die oggendster terwyl ek swaar dra aan ons suider-kruis.

 

Jou huis is waar jou hart is, dis hoekom ek geen eiendom besit nie, nie in my naam nie. Ek is tuis net in my eie liggaam. Oral waar ek kom, dra ek hierdie stuk glas en weet hulle kan hom probeer breek, maar wat dan? Dis dan al so hard soos ‘n diamant en meer werd as die skaarsste juweel. My en jou harte is meer werd as die grootste en swaarste edelsteen ooit gevind en is uniek. Saam het dit gevorm, vir 28 jaar en self vroeër as dit, verstaan jy? Ek is nog altyd naby, nog lank nie te ver. Maak net jou oë toe en bid, sing, onthou. Dis ‘n wonderlike ding, digkuns, musiek, poësie, rym, klank, beelde, alles oefen ek om vir jou te sorg, my toekomstige vrou. Hierdie is die elegie aan al die meisies wat ek reeds gehad het, al die girls wat ek sou gelukkig hou. Die tyd was egter nie reg nie. Nou weet ek, te danke aan jou dat die tyd fiksie is. Ek koop dit uit terwyl ek hoop dat môre steeds gaan kom. Waar gaan ons van hier? Nou in die hede skuif ek aan na my toekoms terwyl ek die verlede onthou. Met die son in my gesig kyk ek graag terug, draai om en loop selfs agteruit, stadig. Ek onthou ook om llinks en regs te kyk voor ek oor ‘n pad met karre loop, en sal onthou as ek ry, dat ek hierdie pad deel met ander. Polisiehoenders maak ‘n comeback. Daar is baie, en ek love hulle.

 

_____________________________________________________________________

 

12/10/2017

 

Dit raak gevaarlik in die “veilige” plek. Mense raak emosioneel aggressief, maar my tyd raak gelukkig min. Die waarheid steek homself weg soos die gif my plasma verbind en my brein stadiger dink. Ek is by die laaste brug voor die koor weer kom en dan sal die finale vers deur my alleen gesing word. Die tyd stap aan, al stadiger, soos ek my oë knip, voel ek ek was al hier. Vantevore het ek mos reeds al hierdie songs geluister. Julle kan mos net die lirieke gaan lees as dit nie jul musiek smaak is nie. Kyk na die kuns. Moenie die kuns vergeet nie, dit sal nie vir jou vergeet nie.

 

_______________________________________________

 

15/10/2017

 

 

Die 15de in saal 15. Ons stap al ‘n lang pad. Hierdie is seker my laaste inbly-naweek. Dit was lekker. Die mense was stil en rustig, dit was asof ek by die flat was. Ek lees, skryf, teken, skilder en rook baie. Ek kyk TV, slaap alleen en kry besoek van vriende. Ek kan vir ewig hier bly. Ek kan vir ewig hier bedien word en ander bedien. Ons dek die tafels en was die skottelgoed. Ons lag, ons gesels, ons speel games en huil en lag. Die prag van die dag maak my manies depressief op ‘n goeie manier. Ek is stabiel. Ek droom en my oë is oop. Dis fantasties. Ek ontmoet nuwe vriende en kommunikeer met oues. Ek deel my storie en luister aandagtig na dié van ander. Elke stukkie van die legkaart val mooi in plek. Dis verfrissend, onheilspellend, asook vreesaanjaend. Wie is ek is lankal beantwoord. Ek weet die antwoord op my vraagstuk. Ek neem die medikasie en ekself mediteer hier by jou. ‘n Nuwe hand word uitgedeel elke keer na ek alles insit of vou.

 

In die aande wanneer ek afskakel, die gedagtes los vir nog ‘n dag, dan dink ek aan jou. Wat as ek sou? Wat dan? Ek weet waar ek is. Wanneer ek is. Wat ek is. As is gebrande hout en op die ashoop het ek lank gesit. Op hete kole het ek my liggaam verbrand. Maar soos fynbos is ek eg Afrikaans, behoort slegs inheems aan hierdie land en na die veldbrand groei ek mooier terug. So vat my hand, lei my na die lig terwyl my oë wawyd oop is. Ek sal weer kom, elke paar weke. Ek sal kom groet, beplan aan my fynbostuin. My tyd begin terug wei. Julle het my bevry. Ek het gelei, maar julle begeleiding het my gered.

 

 

__________________________________________________

 

01/11/2017

 

Die wêreld, soos Francois sê, is werklik mal. 3 maande later. 90 dae afgesonder. Ek is terug by die begin.  My hand is minder stabiel, maar die dam is steeds mooi. Hier is ek kalm. Dis my stilteplek. Die Egiptenare ken my hier. Hulle stap om my, versigtig. Dis weer moeilik om te dink. My gedagtes dwaal. Mense loer seker as hul verby ry, maar dit pla my nie meer so erg nie. Kyk maar, dit maak sin. Hierdie is my kantoor. Ek is ‘n ryk man. My kantoor is oop, vir enige iemand. Dis etensuur en die gebou hier is leeg. Net twee bly agter om die foon te antwoord. Sommige oproepe is te belangrik om te mis. Ek sien geen wit ganse meer hier nie. Net Egipties, ek wonder waarheen hulle almal is. Hierdie sonskyn bankie vertolk my lewe. Dis so rustig hier. Ek haal asem. Ek baljaar met my pen. Met die medikasie wat my are besoedel sal hierdie die plek wees vir helderheid. Ek glo in Sonstraal Dam. Ek glo in die son, ja. Ek vang die son hier, saam met jou, my besigheidsvennoot.

 

__________________________________________________________

 

23/05/2018

 

En nou is dit ses maande later. Ses maande sedert ek diep gedelf het in my gedagtes. ‘n Halwe jaar van wegkruip. Van herstel. Van rustig word en vetter word. Ongesond eet en laataand gaming sessions. Baie skofte by die werk en net so baie slaap. Tyd gaan verby, maar my progressie staan stil. Vir lank was ek te ver voor die tyd. Te vinnig. Vir ses maande het ek maar dinge rustig gevat. Dis 12 inspuitings later. Vandag is gelukkige nommer 13. Waar sou ek wees sonder hierdie konstante? Waar sou hulle my vind? Sou ek nog lewe? Ek kyk weer terug na my skryfwerk van ‘n jaar terug. Ek kyk en lees en dink terug aan my gedagtes van ‘n jaar terug. Ek dink terug aan 18 maande terug toe ek begin het met wat ek nou beskou as deel 1. Gaan deel 2 ‘n soortgelyke slot hê? Waar gaan dit ophou? Gaan ek ooit belangstelling behou om dit verder te vat? Gaan die inspirasie hou soos dit is, aanhou brand in my? Gaan die wind van normaliteit te vinnig kom blus? My onbesondere, normale, “gesonde” bestaan het amper nou ‘n gewoonte begin raak. Amper is ek weer vasgevang in ‘n gevaarlike, afwaartse helling tot ‘n diep donker gat. Ek is wel nog gelukkig, lag nog gereeld en het definitief goeie dae. Dae wat ek geniet, selfs by die werk.

 

Vir ‘n lang tyd het ek nie gedurf om pen op papier neer te sit nie, tensy dit iemand se bestelling was, en daardie skrif is onontleedbaar. Ek dink ek het myself nou lank genoeg tyd gegee. Daar is ook geen intellektuele eksperimente waarmee ek nou wil begin nie, maar ek wil weer begin skryf. Ek wil begin skryf ten spyte van die dwelms. Ten spyte van die psigiese dempers. Ek sluk elke dag my pers pilletjies en elke twee weke kry ek my inspuiting. Vir ‘n lang tyd het ek gedink dat hierdie kombinasie keer my kreatiwiteit, en ook dat kreatiwiteit net moontlik is wanneer hierdie dempers uit my sisteem is. Nou dink ek egter anders. Ek kyk dalk anders na my skryfwerk. Dis dalk minder simbolies en selfs minder kripties, maar daar steek steeds iets aan die woord wat ek hier neerlê. Ek is meer krities oor my eie werk, maar miskien is dit ‘n goeie ding.

 

Miskien is hierdie kombinasie van medikasie, ‘n gesonde leefstyl, genoeg slaap en gereelde doktersbesoeke presies wat my kreatiwiteit nodig het. Miskien is dit juis hierdie konstante herinnering aan die gevare van my eie psige wat my sal inspireer om aan te hou veg vir dit wat ek die liefste het. Iemand wat ‘n goeie langafstand drawwer is, word nie een deur net sprints te doen nie. Hul verskuif elke dag hul limiete en gaan bietjie verder. Hul oefen elke dag, draf elke dag en na ‘n tyd raak hul fikser en fikser totdat dit deel van hul bestaan is. Om van ‘n onfikse liggaam te probeer om ‘n marathon te hardloop, sal meeste mense nooit eers die halflyn punt bereik nie. Ek is skuldig. Ek is iemand wat op impulse wou deelneem aan ‘n tipe marathon sonder om voorbereid te wees daarvoor en ek het gelukkig nie dood neergeslaan nie. ‘n Ambulans het my betyds by die hospitaal gekry en daar het hul my lewe gered. Nou hoor hierdie hospitaal elke 14 dae van my en ek word elke dag van my lewe herinner aan daardie dag. Die dag toe my lewe gered is.

 

Een van my gunsteling Afrikaanse kunstenaars is Jan Blohm en dit blyk my hy is kwaad vir die Rapport omdat hulle ‘n interview met hom getitel het as “draf is Jan se nuwe dwelm”. Ek wens Jan kon die positief in hierdie titel sien eerder as die negatiewe. n Dwelm, Jan, kan positief of negatief wees, wie gee om oor die intensie daarvan. Wie gee om oor wat hul dink. Vir my is die simboliek van daardie titel eintlik baie mooi, dis persoonlik, en ek sien dieper betekenis daarin, want ek is ook ‘n recovering addict, Jan. Ek is ook verslaaf aan iets en veg elke dag om weg te bly daarvan. So ek bly maar gesond en drink my dwelm. My goeie, gesonde dwelmmiddel, voorgeskryf aan my. Want dit hou my rustig en fiks, op die regte spoor en aan die lewe, ter wille van my, my familie, my vriende – almal wat ek lief het.

 

_________________________________________________

 

 

 

 

24/05/2018

 

Dis moeilik. Ek wonder wat om te skryf. Watter storie wil ek nou vertel? Is dit ‘n verhaal wat jy al vantevore gehoor het? Is jy al verveel van my? Dit begin al klink na dieselfde storie oor en oor. Hierdie jaar vier Die Heuwels Fantasties hul tiende bestaansjaar. Die Rock City is die enkel grootste impak op my lewe en Die Heuwels se bydrae is selfs groter as Fokofpolisiekar s’n. Hulle lirieke was net nogaltyd so relatable. Ek het al verdwaal in hul woorde.

 

Gister het ek my aansoek ingestuur. Ek gaan weer probeer. Ek het besef dis nie te laat nie. Geld gaan sukkel, maar dis nie onmoontlik nie. Ek het so ver gekom, so naby aan die einde. Nou voel soos die regte tyd. Deel 2. ‘n Nuwe begin. Ek is oud, maar opgewonde. Dis tyd vir nuwe horisonne. Tyd om weer die spel aan te pak. Die gevaar wat saam met dit gaan is nou minder van ‘n bekommernis. Elke twee weke sal ek getem word. Ek sal wen. Vir ewig sal ek veg, nooit sal ek opgee nie.

 

Ek wil skryf. Ek wil praat. Ek wil kuier, lag, huil, swot, sing en lewe. Ek wil ‘n verskil maak, ek wil my familie trots maak. Ek wil myself trots maak. Ek kan nie langer wag nie. So terwyl ek wag vir die wedloop om weer te begin, draf ek elke dag ‘n bietjie verder.

 

————-

 

Dis baie interessant om jou greep op realiteit te verloor. Om kontak te verloor met daardie deel van jou psige wat jou gegrond op die aarde hou. Daardie deel van jou gedagtes wat kommunikasie met ander sinvol maak word gereeld oorgesien. Nie almal besef hoe moeilik dit is vir sommige mense om sosiaal aanvaarbaar op te tree nie. Dit is eintlik ‘n baie fyn lyn, ‘n grens wat ek al nou en dan oortree het. Ek het al baie mense verskriklik ongemaklik gemaak. Mense het al seergekry. Ek het myself al seergemaak. Hierdie kontrak wat ons almal onbewustelik onderteken het groot gevolge as jy die reëls en regulasies oortree. Jy kan nie kontrakbreek pleeg nie. Daar is geen bedrag geld wat jou daaruit kan kry nie. Jy is vas daarin.

 

 

———————————-

 

19/09/2018

 

Die pyn van kunstenaars

die vermomming van jou siel

verbranding van kreatiewe aas

vang jy die uiteindelike verniel.

 

Wit hope as staan ons op,

eers kruip ons, eers huil ons,

maar sonder ophou sal ons hart klop.

Dit sal klop teen geslote deure.

Dit sal slaan teen stewige mure.

Bloeiend sal ons vuiste swel,

vel sal skeur en nerf sal rooi verf.

Alles terwyl jy stilletjies kyk.

 

———————————

 

10/10/2018

 

Ek is ‘n kind wat man geword het. Mangemaak in donker gange, donker kamers en donker selle.

 

 

17/10/2018

 

Hierdie is vir almal. Al my legendes. Al die skrywers, digters en liriek genies wat my storie gevorm het. Hierdie is vir dié wat die klankbaan van ons lewens vul met betekenis en herinnering. Hoe leeg sou die lewe nie wees sonder jul bydrae nie? Jul gee ons iets om oor te gesels, iets om by ons onbesondere bestaan te voeg en dit ryker te maak. Ons almal baklei daagliks teen die kompleksiteit van ons lewens en jul bied woorde en klanke om die chaos te kalmeer. Vandag wil ek net dankie sê. In tye waar niemand kon verstaan nie, kon ek my oorfone insit. In tye waar ek gesukkel het om te onderskei tussen die geraas en paranoia, het jul woorde en musiek my kalm gehou. Ons almal het rituele. Myne is om nog ‘n sigaret aan te steek, ‘n sluk whisky te vat en te luister.

 

By tye deel ek te veel, ek gryp na deursigtige fyn drade wat ek dink alles bymekaar hou. Die golwe in my verstand raak te groot, te gevaarlik. Ek keer dan weer terug na my ritueel. Ek bly waar ek is, ek bly stil. Ek praat eerder met myself, soos hier. Hierdie seun van Durbanville is nie ‘n oggendster nie, maar hierdie stad het my gevorm.

 

 

—————

 

 

24/10/2018

 

Ek sit alweer in hierdie koffiekroeg. Ek het ‘n gesprek met myself, pen op papier en woorde in my ore. Die tenore se geselskap gee my inspirasie om weer te probeer. Nog ‘n keer, nog seer. Sal ek hierdie dag iets nuuts leer? My terapie-sessie is taamlik goedkoop, my dokter is maar ‘n swart pen in ‘n stok ou boekie. Sy luister baie goed en ek kan haar enige iets vertel sonder dat sy my sal probeer oortuig ek is verkeerd. Sodra die oorfone uitkom en die normale bestaan voortgaan, dan sukkel ek juis. Noem dit paranoia, noem dit lae selfbeeld. Ek sukkel. Ek sukkel want ek dink te veel. Elke persoon wat verby loop maak my angstig. Praat hulle oor my? Wat sê hulle? Ek tel ‘n woord of twee van ‘n geselskap op en glo dit gaan oor my. Ek weet nie waar hierdie gevoel ontstaan het nie, maar ek veg al ‘n paar jaar daarmee. Ek weet dis verkeerd. Ek weet dis nie die waarheid nie, nie altyd nie. So ek verkies my oorfone aan, om die geraas in my gedagtes te kalmeer, om die chaos te tem.

 

Die musiek praat wel ook met my, maar dit is anders. Die lirieke en klanke is vir almal. Ek weet nou al vir jare die musiek word nie vir my gemaak nie. Ek probeer steeds ontleed wat skuil agter die woorde, wat skuil agter wie dit sing en wie dit geskryf het. Wat het dit vir hulle beteken? Voel hulle dalk soms dieselfde?

 

Ek dink in ‘n manier is hierdie koffiekroeg sessies vir my soos groep-terapie. Elkeen kry ‘n beurt om sy storie te deel. Elkeen leer uit mekaar se seer. Saam stap ons almal ‘n pad. Ons almal het seer wat ons leer beheer. Ons kan mekaar help. Deur net te lees, luister of praat kan ons ‘n storie deel wat dalk net een mens ‘n bietjie hoop gee.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.