03/08/2017

Vandag is ‘n belangrike dag in my lewe. Hier sit ek in my kamer, 13 jaar later. 13 jaar na my vliegtuig op Tygerberg geval het. 13 jaar na my lewe gered is. 13 jaar na ek met my pa gepraat het vir die eerste keer vanaf hy hierdie wêreld verlaat het. 13 jaar terug is ek gevind. In G-laergrond is ek gevind. Ek het my betekenis gevind, my masker het verdwyn. Ek het vir die eerste keer in die spieël gekyk. Ek het gesien wie kyk terug. Aan die begin was ek bang. Daar was ‘n vrees wat onbeskryflik was. By tye het ek gedink ek gaan doodgaan. Daar was engele, maar die duiwel het my ook gejaag, ek het gedink ek is vinnig genoeg om hom voor te bly. Eers later het ek besef jy kan nie vir jouself weghardloop nie.

—————————————-

Lunchtime. Dis Vrydag. Nooit te laat vir ‘n Wimpy breakfast nie. Mense kyk. Mense praat. Mense sal altyd praat. Dis baie min dat mense om my actually sien, actually hoor. Almal hou my dop. Almal dink ek voel nie hulle oë nie. Maar dit pla my nie meer nie. Ek is in ‘n veilige plek. My kantoor. My kelner bring my ete, ek vat ‘n sluk van my decaf mega cappuccino, nie te warm nie, hulle weet al. Die Wimpy ken my goed. Ek werk al jare hier. Hulle het my al op my beste gesien en op my slegste. Elke keer aanvaar hulle my terug.


 

Die snaakse ding van ‘n luiperd is dat jy hom nooit regtig kan mak maak nie. Sure, jy kan hom vang, hom verdoof en hom in ‘n hok toesluit. Jy kan hom opketting en agter tralies sit, vir ander se pret. Die plesier wat hierdie mense ervaar is egter nie in balans met die pyn en leiding waardeur die wilde dier gaan nie. Sy hartseer moet nooit vir jou plesier verskaf nie. In dieselfde manier is ek nou in die wild. Ek stap in die strate soos ‘n wilde dier, maar die mense sien nie hoe gevaarlik ek kan wees nie. Hulle verkies dat ek opgesluit word. Hulle verkies my mak. ‘n Kat sal nooit mak wees nie, maar hy kan leer om homself te gedra.

So ek sit maar my masker aan. Ek vermom myself, want ek’s lankal nie meer bang vir die tralies nie, maar ook nie juis lus daarvoor nie. As jy egter ‘n luiperd in die wild bestudeer sal jy beter verstaan wat ek probeer sê. My storie, my verhaal, is al soveel keer, oor en oor misinterpreteer.

 

———————-

4/08/2017

Ek stap stadig oor die klippe. My voete is al seer van kaalvoet loop. Ek hou maar die blink kant bo. Die son sal altyd opkom. My skadu sal my altyd volg. Dit is egter die lig van hierdie ster waarsonder hierdie donker kant van my nie sou kon bestaan nie. Lig en donker, en die as van my tabak is die grys waarmee ek nou sal kuns maak op ‘n skoon wit bladsy. Dit is hier waar ek mag mors sonder om geskel te word. As kind leer jy wat is reg en verkeerd. Jy leer die gevaar van wit en swart. As kinders het ons vrae hieroor gehad, maar daar was net reg of verkeerd. Niemand kon die grys area vrae beantwoord nie. Dis hier waar ouers iets by hul kinders kan leer.

Die kat kom weer, glo my dis waar, die ander dag more was die kat weer daar.

In my ouma se finale jare hier in Huis Aristea, met die Alzheimer’s in volle effek, was sy darem by my ma. Ek onthou die dag toe ek vir haar gaan kuier het in die siekeboeg. Toe ek inloop het sy gedink ek is haar seun. Sy het gedink ek was Piet. Sy was nie so deurmekaar soos wat almal gedink het nie. Sy was nie heeltemal verkeerd nie, elke dag lyk en klink ek meer soos my pa. In baie maniere is ek sy seun, maar ek weet ook ek is uniek in my eie manier. In 5 jaar het ek baie geleer by my held, my mentor en my vader.

Nou soos die tyd begin verdwyn, stap ek my eie pad. Ek stap een ry spore tussen die stasies van die lewe. Ek is veilig in hierdie stad. Ek sal altyd woon in hierdie stad. Hier ken mense my, my naam, WP. WP van Schalkwyk.

Om ‘n waiter te wees is ‘n baie nederige job. Jy leer verskriklik baie. Jy leer van mense, politiek en advertising. Musiek. Waarvan mense hou, wat hulle geniet. Wat hul irriteer en kwaad maak. Met tyd wil jy opgee. Jy quit. Jy skuif aan, want daar is oral nog ‘n waiter job. Dis min dat mense besef jou waiter kan meer wees as net dit. As jy lank genoeg na dieselfde plek kom, sal jy uitvind daar steek actually ‘n persoonlikheid weg agter elke persoon wat jou bedien. Hulle weet dalk meer as wat jy dink. Wanneer jy weer ongeduldig raak met jou kelner, besef net dat hierdie persoon is dalk ryker, slimmer en meer opgelei is as wat jy dink.

Ek sal altyd werk. Balans is belangrik. In my company werk ek vir myself. Ek het ‘n paar jaar terug ‘n naam gegee vir my besigheid. Swartluiperd Produksies, want die lewe is soos een groot bedryf, en tydmors is waansin.

5/08/2017

Ek is permanent op vakansie. Bellville is die mooiste vakansiedorp in die wêreld. As ek geld nodig het, dan werk ek. As ‘n waiter het jy tyd om te beplan as jy by die huis kom. Jy kan jou vrye tyd ten volle geniet. Toekomsplanne en terugdink aan die verlede. Jy kan jouself versuip in jou gedagtes of laat gaan in die kuberruim. Jou brein is baie gevaarlik. Dit vergeet soms van jou hart. Die ding wat die suurstof verskaf aan jou gedagtes en wat soms so vinnig kan beweeg.

Raak rustig, haal asem. Bly net kalm. Moenie oorgee aan daardie vrese, daardie demone wat jou jaag nie. Jy kan aanhou hardloop, maar jy sal nooit vinnig genoeg wees nie.

Hyg jaag duiwel, hyg. Eers as jy jou demone in die gesig staar, vreesloos jou oë vir hulle wys. Eers dan sal jy jou eie pyn vind. Wat het jou seergemaak? Wie het jy verloor? ‘n Pa. ‘n Ma. ‘n Dogter. ‘n Tannie. ‘n Oom. Ek skryf oor almal in my storie, my verhaal. ‘n Ouma. ‘n Oupa. Dit gaan altyd gebeur. Die dood hoef lankal nie meer gevrees te word nie. Ons is almal reeds in die hemel. Dis hemel op die platteland. Die platteland. Daar waar die son opkom. Wie is die son in jou lewe? Wie gee jou rede om aan te hou veg? Veg vir wat reg is, veg vir wat verkeerd is. Waar vat die padkaart van jou lewe jou? Myne bring my altyd huistoe. Daar waar die hart is. Daar waar ek Afrikaans kan praat.


alone-black-and-white-cool-wallpaper-764880

Ek het ‘n bar waar ek kan drink waar die barman my ken. Ek was groot. Ek was klein. Ek was dronk. Ek was nugter. Ek was hoog. Ek was laag. By tye wens ek al die geraas wil ophou.

Die musiek dra my deur elke dag. Na ‘n dag van werk kom rus ek en dink terug. Ek ontspan. Ek raak hartseer. Ek raak dronk. Ek huil. Ek wag. Ek gaan soek iets. Ek programmeer myself. Ek leer. Ek kuier. Ek skryf. Ek maak musiek. Ek luister. Ek maak grappies. Ek vertel stories. Ek mis my ma. Ek dink aan my suster. My lewe. My skryfwerk. My pa, die geskiedenis. Die toekoms waarheen ek oppad is. Wie ek is. Wie ek was. Wie ek altyd sal wees.

Ek is ‘n Jack, ‘n Jack of all trades, master of none. Luister net na jou hartklop. Wat maak jou tik? Tick Tock. So gaan alle tyd verby. Maar wat is tyd? Tyd is fiksie. My lewe is soos ‘n bedryf en tydmors is waansin. Ek is ‘n poet, soms met woorde, soms met dade. Ek rook en ek drink. Ek draf en ek stap. Ek staar en ek kyk. Alles vir jou, Suid Afrika. Vir Tolla, vir Jan Blohm, daar waar die son in my lewe opkom. Die taal van my hart. Die Thorakale Aorta anurisme in my are.

Dis als vir jou my moeder. Sodat jy kan verstaan wie en wat ek is. Ek is jou seun. Ek sal altyd naby jou wees. Ek is lief vir jou, ma. Ek is ‘n man en dis tyd vir my om te laat gaan. Maar ek sal altyd daar wees vir jou. Ek is jou seun. Ek is WP. Willem Pieter van Schalkwyk. Vir nou. Vir ewig. Vir altyd. Ons vir jou Suid-Afrika. Waar ookal ons dalk mag wees. Ons is oral. Ons is die kinders. Die kleinkinders. Ons is die gees en die hoop. Bly glo in die generasies. Dit wat kom en dit wat altyd sal wees. Hierdie is my swanesang. My lied aan my ma. Vir jou is ek lief. Alles was nogaltyd vir jou. My aksies spreek harder as enige woorde. Ek hoop ma sal my altyd onthou. Ek dra jou altyd in my hart. Ek is altyd naby. Ek sal nooit weggaan nie. Bly altyd wie ma is. Sien ma later. Lief vir ma.

———–

30/9/2017

Ek is terug.

————-

1/10/2017

Sondag. Terug. Die rusdag. Dis tyd vir my psigiese delwing, my vliegery, my swemmery, om op te hou. Al is dit net vir een dag. 12 ure se rus. Ek gaan lui wees. Ek gaan minder begin praat. Ek gaan genoeg dink. Nie te veel nie, nie te min nie, net reg. Ek is in my goue zone. Choas kom nou tot ruste, kompleksiteit raak minder interessant. Die lewe se raaisels vul ek daagliks in. Ek lewe. Liefde en haat. Goed en kwaad. Vandag is net nog ‘n dag, maar sjoe, wat ‘n dag. Twee maande sedert die begin van hierdie hoofstuk. As jy nou wil moed opgee, blaai net terug. Ek sal dit selfs oor ‘n koffie en sigaret vir jou kan opsom. Een gesprek, met of sonder woorde. Dankie. Dankie vir jou, my papier en pen. Dankie dat daar altyd van jou tyd beskikbaar is. Ek sien uit na ons toekoms saam. Na ons verlede. Na ons hede.