6 Februarie 2017.

Hulle sê almal moet hul talente oefen. My talent is stories. Om te skryf, om storie te vertel is wat ek wil doen. Ek suck in sport. Ek rook, ek drink en tans is ek oorgewig. In 2017 het ek besef dat ek moet begin fokus. 28 jaar oud, fokol agter my naam. Geen legacy, geen loopbaan. Geen graad. Geen meisie. Fokol. Ek was vet en ongelukkig aan die einde van laasjaar. Ek moes verander. Met die begin van hierdie verandering het ek my doel herontdek.

Maar jy ken my nie. Kom ek vertel jou eers bietjie oor myself. Fok struktuur, ek gaan sommer in die middel begin.

Ek weet nie of enige iemand ooit hierdie gaan lees nie. Ek weet nie of ek volgende week nog gaan skryf nie. Ek is geneig om dinge nie deur te voer nie. Baie keer het ek al begin met iets en net later verveeld geraak. Dit het ook al ‘n paar keer gebeur dat ek myself toewy aan ‘n awesome idee, maar dan gaan kuier ek in die Royal Hotel vir so twee maande.

Ek hou van musiek. Baie. Musiek is seker my een konstante. Dis die een veranderlike in my lewe wat nooit verander nie. Die talent van liedjieskrywers. Hulle kan taal rond skuif, op paar en stories vertel van hul kultuur en omgewing. Hul struggle, hul kennis, hul idees van die wêreld. Elke song is ‘n ander storie. Hierdie is seker hoekom my aanvanklike musieksmaak Fokofpolisiekar was. Met hulle het my eie psigiese delwing begin.

Hunter se woorde het direk met my gepraat. Ek het dit geken. Die songs het my dieper laat dink oor die situasie waarin ek myself bevind het. In 2003 het my suster, Soné al vir my hul eerste song gespeel en ek was dadelik gehook. Ek wou nog hê. Ek het oral waar ek ‘n geleentheid kon kry meer geluister. Dit was asof die lirieke vir my geskryf was. Dis egter ‘n storie vir ‘n ander dag.

My gedagtes is maar meestal deurmekaar. Ek bly nie regtig op topic nie. Op die oomblik skryf ek maar vir die oefening. Ek hoop ook my handskrif raak beter, want ek sukkel om dit self te lees. Hierdie is ground zero. Dit voel so goed om weer ‘n pen vas te hou. Ek kort baie oefening, navorsing en herinnering.

Herinneringe vir my, kan baie seer maak. Daar is baie gebeurtenisse in my lewe wat mense al vir my gesê het dis beter om van te vergeet. In 2017 het ek besef hulle weet nie waarvan hulle praat nie. Herinneringe, goed en sleg, is die klippe waarop ons karakter se fondasie gebou word. My verlede het my gemaak wie ek vandag is. En ek is trots op myself. Ja sure, ek het nie regtig iets om te wys nie, nie in die aanvaarde sin van die idee nie. Maar ek het ‘n tas, ‘n boks, ‘n boek, ‘n volume, ‘n ensiklopedie vol stories om te vertel. Sommige is hartseer, sommige happy. Sommige sal jou bangmaak. Alles is gegrond op die waarheid. Want ja, daar is net een waarheid. Daar is net een antwoord op ons almal se vraagstuk.

My storie as ‘n geheel is ‘n ontdekkingsreis. Plaas jouself in my skoene en stap so entjie saam met my. Jy gaan ‘n hele paar keer moeg raak vir my kak. Jy gaan baie keer nie saamstem met my nie en ek hoop jy vat jou eie les daaruit. Dit sal boring wees as jy saamstem met alles.

Ek verklaar geensins dat ek enige antwoorde het nie. Geen filosoof het nie. Ek weet eintlik niks, maar wat is niks werklik?

So ‘n paar jaar terug het ek vir die eerste keer van my kettings losgebreek, omgekyk en my oë het verbrand. Ek het uit my grot gekruip en nooit weer dieselfde na die wêreld gekyk nie. Nes die grot van Plato. Ons is almal filosowe. Meeste is egter steeds vasgeketting aan die vloer van ‘n grot en weet nie wat agter ons is nie. Ons wêreld bestaan uit dit wat ons van kinds af voor ons sien. Maar daar is soveel meer om te ontdek…

 

————

7 Februarie 2017

 

Ek voel gister was ‘n bietjie baie deurmekaar. Ek wou so baie sê en het meestal net geramble. Lukrake gedagtes en teks wat self nie altyd vir my sinvol was nie. Ek was excited. Ek skryf weer. ‘n Digter skryf mos nie dadelik ‘n perfekte gedig nie. My strategie met hierdie joernaal is om my nie veel te steur aan struktuur nie. As ek aan iets nuuts dink sal ek heel moontlik afdwaal. Ek gaan dit ook rustig vat. Skryf vir my is soos ‘n dwelmmiddel. Lekker om high te raak aan die begin, maar as jy verslaaf raak kan dit skade doen. Ek rook ook meer as nikotien deesdae, so ek mag nog meer kreatief raak op tye. Selfs dit is ‘n risiko, maar dit het grotendeels veroorsaak dat ek nou weer hier sit. Die risiko is dus vir my die moeite werd.

Ek dink terug aan ‘n verjaarsdagkaartjie wat ek by my ma gekry het vir my 25ste, “Die lewe is ‘n lied”. Hierdie is dalk baie eenvoudig, maar sy was reg – gedeeltelik. Die lewe is ‘n storie en lliedjies doen presies dit. Musekvideos voeg beelde by hierdie stories en maak dit toeganklik vir almal. Ek onthou die Heuwels Fantasies se eerste paar musiekvideos het dit goed gedoen. Dit was net Pierre, Hunter en vriende wat die land reis. My lewe sal ‘n baie lang en komplekse musiekvideo wees. Imagine ‘n musical weergawe van die Truman Show. Big Brother met permanente musiek in die agtergrond. Ek is die hoofkarakter in my eie verhaal en daar is ‘n menigte klomp byspelers, antagoniste en selfs ekstras. Props is natuurlik ook baie belangrik. Simboliek is oral en ja – ek het al ‘n screenplay geskryf vol musiek en simboliek. Ek het dit ’n cool naam gegee. ‘n Fantastiese Realiteit, ‘n Maniese verhaal. Ek het selfs aan ‘n naam gedink vir ‘n produksie maatskappy – Swartluiperd Produksies. Ek het my idee egter verkeerd hanteer, deels omdat ek manies geraak het. My idee het te vinnig vlam gevat en nou krap ek in die as daarvan en soek een warm kool.

Gelukkig het ek alles gehou. Dis een ding waaroor ek bly is. Maak nie saak hoe onbelangrik iets voorgekom het nie, ek het dit iewers weggebêre. Vandag het ek alles bymekaar gesit en deur dit geblaai. Dit was interessant om byvoorbeeld skryfwerk van 2005 met 2014 te vergelyk. Alles is pretty shit, maar daar is definitiewe groei. Hoe meer lewe ek geleef het hoe beter het ek begin skryf. Die stories bly eenders, maar my manier van praat daaroor het nuwe vorms begin aanneem. Ek het selfs vir ‘n tydperk nie geskryf nie en eerder gesels met my webcam. Ek het selfs van die videos op youtube gesit, videos waar ek net gesels oor wat ek as bipolar beleef het. Ek moes dit egter stop want in daai tyd was ek pas uit die hospitaal en my ma het nie gedink dis gesond om met “myself” te gesels nie. Ek het probeer om vir haar te verduidelik wat ‘n visuele video dagboek is, maar sy kan nie verstaan nie. Dis hier waar ek besef het ek moes my eie plekkie vind en het uitgetrek.

Ek wens ek het van jongs af aangehou met ‘n daaglikse joernaal Hierdie is egter die “better late than never” situasie. Soos hulle sê probeer alles en behou die goeie. Ek skryf dus alles nou neer. Ek gaan dig, stories vertel en selfs bietjie teken. Ek gaan van dit deel en ander se opinies vra. Ek gaan die goeie behou en selfs later alles stuktureer.

Daar is so baie wat ek nou weer wil doen. Ek gaan egter wegbly van social networks en blogs af. Dit maak baie mense ongemaklik, want baie van my stories maak baie mense bang en bekommerd. Dit wil ek nie hê nie. Op hierdie bladsye kan ek doen wat ek wil, maar buite in die “regte” lewe moet ek maar een of ander vorm van ‘n masker aansit. Ek het ‘n verantwoordelikheid om sommige mense happy te hou, al beteken dit ek moet op sommige maniere fake wees. Ek is egter ‘n goeie actor, vir jare was ek in ‘n permanente rol. Die karakter se naam is WP, jy ken hom goed.

So waar is ek op hierdie oomblik? Wie is ek? Hoe sal ek myself beskryf in woorde? Dis moeilik. Niemand ken my rêrig nie. Niemand weet wie agter die publieke masker wegkruip nie. Die enigste kere wat mense my sonder my masker gesien het is in of uit die hospitaal terwyl ek “siek” was. Dis sad, maar ek het so gewoond geraak aan my karakter dat ek myself verloor het daarin.

Skryf en kuns en musiek is die enigste tye wat ek myself is. So wie kruip agter WP weg? Kom ek vertel jou eers oor WP.

Op skool het hy nog altyd akademies goed gedoen. Hy is slim, maar was altyd verveeld met die werk. Hy was op laerskool forseer om te presteer, hy het krieket en rugby gespeel en altyd probeer cool wees. Hy was stout maar nie te stout nie, hy het skelmpies in graad ses begin rook. Op Hoërskool het hy aan alles deelgeneem. Akademie het sterk gebly, debat, redenaars, drama, kuns, skyfskiet, skaak, olimpiades, CSV, SR,VRL, dirigent. Yugioh, tazos, geek, nerd, cool, populêr, ek het dit alles gedoen om uit te staan. WP was oral. Vat ‘n jaarboek en jy sal my ‘n hele paar keer sien. Almal in Stellenberg ken my, van graad 6 tot matriek. Ek het my doel in die lewe gesoek, maar die prentjie wat almal gesien het, die cool, populêre ou wat hoofleier was is net ‘n fasade. Dit is glad nie die regte WP nie. Dis net ‘n karakter.

Ek het self nie eers geweet dit was ‘n karakter tot in graad 10 nie. Graad 10 was natuurlik die jaar wat hierdie masker afgeruk was.

Skip na 12 jaar later en hier sit en skryf ek nou. Wat het verander? Wel, as ek langer hierdie verhaal inhou, gaan ek bars. Ek wil weereens ‘n verskil maak, maar nou doen ek dit nie om enige iemand te impress nie. Ek wil dit doen vir myself. Ek wil mense voorstel aan die man agter die masker wat hulle ken. Ek wil dit reg doen. Ek wil deel wat ek geleer het van myself in my 28 bestaansjare. My tyd op hierdie aarde is onbepaald en ek wil ‘n legacy hê, iets om my te onthou as ek hierdie realiteit verlaat.

Miskien word hierdie nooit eers gedeel nie. Miskien raak hierdie joernaal weg, maar dit maak ten minste ‘n verskil aan my eie psige.

Maar terug by waar ek nou is. Ek is ‘n waiter, maar ek het hoop vir die toekoms. Ek hou my slaap patrone en gedagtes dop, want as ek te happy raak, kan ek relapse. Ek luister deesdae baie rap-musiek. Ek love koffie en sigarette, veral saam. Ek kyk meer flieks en lees meer. Ek beplan om my eerste en tweede jaar se werk deur te gaan en op te vang voor ek weer gaan swot. Ek het onlangs weer ‘n oom geword. Ek drink elke dag my pille.

My hand raak nou seer, so sien jou later.

__________________________

Jy wil seker weet van die eerste keer. Daai keer toe my masker afgeruk is. Die keer toe my karakter verdwyn het en my oë verbrand is deur die vuur. My brein was aan die brand en my ego het ontplof. 2005, graad 10. Hoërskool Stellenberg. Junie. My amplitudes het geleidelik my gemiddelde frekwensie opgestoot. Ons was besig met die groot middel van die jaar eksamen. In hierdie tyd was ek reeds baie betrokke by die NG-Kerk Stellenberg, die skool se VCSV en het op weeklikse uitreike gegaan. Ek was op die VRL en akademie het goed gelyk.

‘n Paar snaakse dinge het toe begin gebeur. Ek het meer en meer dieper boodskappe in Bybelse tekste gevind. Ek het meer begin praat en selfs minder geslaap. Alles het my begin fasineer. Ek onthou hoe dit geleidelik erger begin raak het. Die dieper psigiese delwing het oorgespoel tot daaglikse mundane dinge ook. Elke TV advertensie, fliek en program het dieper simboliek gehad. Ek onthou hoe ek nie saam met my ma kon TV kyk sonder om my opinie te lig nie. Dit het eintlik onnodig begin raak. Tydens hierdie begin fase, hierdie hipomanie, kon ek egter nog normaal funksioneer. Dit het eers begin manies en dus gevaarlik raak toe die eksamen begin. Iets het gebeur wat ek nie kon beskryf nie. Ek het nog nooit hierdie storie met enige iemand gedeel nie, nie die hele storie nie.

Ek het een aand wakker geword na ‘n baie intense droom.  Ek hoor toe dit reën buite. In die droom het verskeie figure met my gepraat. Ek slaan toe die Bybel oop en lees die eerste versie wat my vinger tref. Die versie kan ek nie onthou nie, maar dit het gegaan oor water. Reën, water en die golwe van skeinat spook toe vir ‘n tydjie by my. Daardie dag by die skool vertel iemand my toe dat Andrew se broer deur ‘n witdoodshaai geëet is terwyl hy geduik het in die oseaan. Hierdie was die laaste veranderlike wat nodig was vir my om kontak met die werklikheid te verloor. Die gevoel van déjà vu was net te sterk en ek kon sweer ek het in 2005 ‘n droom gehad wat hierdie gebeurtenis voorspel het. Ek bel toe daardie aand vir Bernard, Andrew se vriend, om hierdie gevoel te confirm. Hy weet egter nie waarvan ek praat nie. Ek bel toe my kringleier, Will, om hom te herinner aan die droom wat ek vroeër die jaar gehad het, maar hy weet egter ook nie.

Dis natuurlik vanselfsprekend dat my suster en my ma hierdie tyd begin bekommerd raak het. Dit sou in elk geval in hierdie tyd baie moeilik wees om my te oortuig van die waarheid. Ek besluit toe om eerder met God daaroor te praat. Antwoorde vir my vrae het uit die Bybel en lirieke van songs gekom. My brein was nou 30 keer vinniger as normaal en ek was verslaaf. Slaap het verdwyn en die manie was my nuwe normaal. Ek het begin om my eie idees toe te pas op wiskunde, skeinat, biologie en selfs Xhosa. Vir my het dit gevoel asof ek meer weet as wat vir ons gesê word in die handboeke. Ek onthou hoe ek die dag tydens die wiskunde eksamen net na die vraestel gekyk het. Dit was meetkunde en ek het net ‘n klomp sirkels op die bladsy geteken. Christel langsaan my het begin huil. Eers later het ek uitgevind dis ek wat haar ontstel het. Skeinat was ook interessant. Ek was so hyper die dag, ek het vir Suandrie vertel dat al die idees van skeinat beskryf kan word as jy op ‘n boot sit in die dam en die golwe bestudeer. Golwe bevat die antwoord vir alles. Xhosa was die ergste en ook die vraestel waar ek die eerste keer begin psigose ervaar het. Die Xhosa teks het vir my maklik verstaanbaar gelyk. Ek was oortuig die letters en woorde kan outomaties deur my brein vertaal word. Ek dink nie eens ek het een Xhosa woord in die hele vraestel gebruik nie. Daardie middag het ek huis toe gestap en het vir die eerste keer klanke gehoor wat nie daar was nie. Uit roetine het ek eventually by die huis gekom en teen hierdie tyd was ek op menigte mense se radar. Die dominee van die kerk het eerste ‘n idee gehad van wat dalk aangaan met my. Ek onthou hoe ek die dag staan en skottelgoed was. Ek was alleen by die huis en die foon het gelui. Teen hierdie tyd was ek ook baie paranoïes. Ek het gevrees mense dink ek raak mal en sluit my toe. Hierdie oproep het nie dinge verbeter nie. Dominee Andriette praat met my en vra of my ma daar is. Sy was nie en sy sê toe sy sal later terug bel.

Die volgende dag sit ek in ‘n vreemde huis met ‘n sitkamer vol vensters. Vir wat voel soos jare, wag ek in die wagkamer terwyl die sielkundige met my ma praat. Die radio was aan, ek dink oorgesit deur my en ek onthou hoe die stasie met my gepraat het. Die omroeper was spesifiek daar om met my te praat. Deur die wagkamer se vensters het selfs die sonlig en wolke buite begin vorms aanneem. Ek was rustig. Tevrede. Spesiaal. Terwyl ek alleen daar gesit het, het vreemde dinge in die huis ook gebeur. Snaakse geluide en mense het verby geloop. Ek het my bes probeer om dit te ignoreer. Of dit bedoel was om my reaksie te toets, weet ek nie. Uiteindelik het die sielkundige my ingeroep. Hy het nie langer as 5 minute met my gepraat nie. Ek dink hy het besef ek is verby die punt van praat. Ek het professionele hulp nodig en hy is nie toegerus om my te help nie. Hy verwys ons eerder na ‘n psigiater. Sonder enige antwoorde en met groeiende paranoia gaan ek huis toe. Hulle het gedink ‘n Valium sal my goed doen en miskien laat slaap, maar dit het niks gedoen nie.

Die volgende dag gaan ons toe na die psigiater. Sy praat ook nie lank met my nie, maar met my ma. Ek weet dat hulle my eventually teen my wil gaan institutionalise, en ek vra toe in my manie vir haar om dit nie te doen nie. “WP het sekere regte”, die bietjie teks wat ek haar gevra het om te teken op ‘n mediese sertifikaat. Hieraan het ek vasgeklou, want die volgende stop op my reis was Tygerberg Hospitaal.

Daardie aand sit ons by my tannie en oom se huis. Ek wou niks drink nie. Niks eet nie. Almal in die kombuis was besig om te praat oor my. Ek was weereens alleen in ‘n wagkamer. Een vir een nooi hulle my kombuis toe. Ek het niemand meer vertrou nie. Dis eers toe my oom by my kom sit dat ek hom vra om my te beskerm. Hy was my tweede pa en hy was ‘n sterk man. Ek het hom gesê wat moontlik daardie aand gaan gebeur. Ek het hom vertel van die manne in wit jasse wat my daar gaan wil hou. Ek vra hom om hulle te keer. Hy gee my toe sy woord. Hy belowe hy sal my beskerm. Ek verduidelik vir hom dat ek nie mal is nie. As dit nie vir hom en sy belofte was nie, sou ek nooit daai aand so rustig wees nie.

Next stop, Tygerberg. In die kar het ek noukeurig na die radio geluister. Vrees was oorgevat deur opwinding. Vir die eerste keer het my brein vir my ‘n tipe show geskep. Tygerberg was ingerig hiervoor en my familie en vriende sou ook deelneem. Ek weet nou nog nie hoekom nie, maar daar was een of ander safety mechanism in plek. Ek het ook gedink dat God met my praat. Ek het verander in ‘n contestant. En ek wou wen. Maak nie saak hoe moeilik dit sou raak nie. Aangekom by die hospitaal vind ek myself weereens in ‘n wagkamer. “WP het sekere regte” is by die deur uit. Ek is gelei na saal G-laergrond. Hulle sê ek gaan net een aand hier spandeer vir verdere observasie. Ek weier. Hulle gee my 4 wit pilletjies om my rustig te maak en te laat slaap, maar ek weier. Die susters sê vir my ek gaan bly, maar ek weier. Op hierdie oomblik het ek na my oom gekyk. Ek het hom mos reeds vertel wat nou gaan gebeur. Twee polisiemanne kom afgeloop in die gang af. Die suster se vir my ma, suster, oom en tannie om te groet. Alles het baie vinnig gebeur van hier af. My oom het my hand gelos. My ma en tannie het begin huil. Ek het begin huil en skree, ek het baklei teen hierdie twee fokken groot mans en het vir ‘n oomblik na my oom gekyk. Hy was gebreek. Hy het sy belofte aan my verbreek. Die twee figure stoot my in ‘n kamer in en spuit my in. Ek was uit. Vir die eerste keer in twee weke het ek geslaap. G-laergrond sou vir die volgende twee weke my huis wees. My familie.

In 2005 het min mense geweet wat bipolêr beteken. Sommige het al gehoor van maniese depressie, maar veral niemand in my onmiddelike omgewing het enige iets hiervan geweet nie. Dit was ‘n skok vir ons almal. Die depressie van 2004 was toe net ‘n voorganger vir my nou maniese toestand.

Die eerste paar dae in G-laergrond was en is nou nog ‘n dwaal. Ek was in en uit psigose, ek het hallusineer en stemme gehoor. Voorwerpe het met my gepraat. Ek was wakker, maar nie bewus nie. Drome het my werklikheid geword. Ek het geen beheer oor myself in hierdie toestand nie. Ek was permanent op ‘n soort psychedelic trip, gemeng met positiewe en negatiewe emosies. Vir die eerste drie dae het ek die hemel en hel besoek. Ek was ‘n vrye toeris by beide en het gereeld met God en die duiwel gesels. Ek was egter nie altyd alleen nie. Daar was ander besoekers ook, die ander pasiënte. Aan die begin was ek baie bang, ek was steeds paranoïes. Opgesluit saam met mans vol tattoos en scars. Hul gesigte het ander vorms aangeneem en vir my soos die beeld van demone gelyk. As dinge vir my te veel geraak het, het ek myself in die koeloekoets gaan sit. Dit is hier waar ek myself kon wees en my trip kon geniet. Ek kon kalmeer. Ek kon fokus. Tussen hierdie vier mure het ek die hoë golwe van my abnormale psige bestudeer. Dit is hier, hierdie meditasiekamer, hierdie deur na die dimensie van my siel, waar ek geleer het van die grot. Dit is hier waar ek buite myself kon klim en myself bestudeer. Ek het ander plekke hier besoek. Ek het stories uitgedink en nuwe idees gekry. Tyd het verdwyn. Realiteit het verdwyn. Minute het gevoel soos ure, en dae soos minute. Ek het laat gaan.

Aan die begin was alles te veel. Verbeel jouself jy word jou hele lewe grootgemaak om te glo dat dit wat jy sien realiteit is en niks anders bestaan nie. Eweskielik was ek op ‘n hele nuwe planeet waar alles nuut is. My psige was oorlaai. Ek kon dit nie hanteer nie. Maar na ‘n tyd, genoeg tyd, begin jy gewoond raak aan al hierdie nuwe informasie. Hierdie was meestal die eerste paar dae in die saal. As dit nie vir die engele in die saal was nie, sou dit dalk vir my moeililker gewees het om terug te kom aarde toe. Na my drie dae van hel op my eie met al hierdie nuwe gedagtes, het ek besluit om uit die kamer te gaan. Ek het die res van die saal begin bestudeer. Dis hier waar ek baie karakters ontmoet het. Daar is baie. Ek het selfs ‘n vriend gemaak in die G-laergrond. Sy naam was Troy en al was ek nog manies kon ek weer gesprekke voer en hy het my beste vriend geraak. Ek was altesaam ‘n week en ‘n half, 10 dae in hierdie saal.

In hierdie tyd het ek stelselmatig afgekom van my high, maar G was nogsteeds ‘n gevaarlike plek. Elke nuwe pasiënt het nuwe vrese en nuwe probleme saam ingebring. In hierdie tyd is dit finaal bepaal dat ek al die tekens van bipolêr het. Medikasie is dus begin en ons was “lucky” want dit het volgens hulle begin werk. Besoek tye was interessant, my ma was elke dag daar en my oom en tannie so nou en dan.

 

Sy naam ontgaan my, maar daar was ‘n man-suster wat my gunsteling was. Hy het altyd geluister na my. Hy het my stories vertel en was altyd op vir ‘n game skaak. Hy het selfs elke nou en dan gewen. Roetine was baie belangrik, alles het klokslag verloop. Elke oggend het die sekuriteitswag my ekstra vroeg wakker gemaak om te stort. Hoekom dit gebeur het sal ‘n latere storie duidelik maak. Ek het snaaks genoeg nooit sigarette gerook in hierdie saal nie. Geen vriende mag hier kom besoek het nie, om vir my en hulle te beskerm.

Die dae in G het baie lank gevoel. Daar was nie veel om te doen nie en as jou brein so vinnig soos myne was, raak jy maar vinnig verveeld. Ek het maar my tyd gebruik om meer te leer van ander se stories. Ek het ander ook dopgehou en baie geleer oor verskillende vorms van geestesversteurings. Ek was natuurlik self nie ‘normaal’ nie. Vir ‘n lang tyd het ek gedink ek is op ‘n show. Ek het gereeld die kameras in die saal dopgehou. Die ander mense in die saal was ook akteurs en dit was ‘n kompetisie om te sien wie die langste kan uithou. Nie almal was akteurs nie, sommige was rêrig siek. Verbeel jouself dis soos Big Brother of die Truman Show in ‘n tronk.