Lukrake gedagtes

5 Februarie 2017

Ek dink terug aan 2005 in saal G. Die kameras het my dopgehou. Natuurlik met elke dag wat verbygegaan het, het die illusie van my psige verdwyn. My paranoia het ook beter geraak. Mense het al hoe minder oor my gepraat. Ek kon beter kommunikeer, het normaal begin slaap en het ander mense in die saal leer ken.

Cody was ‘n interessante karakter. Hy is ook bipolêr. Toe ek hom die eerste keer ontmoet het, het ek gedink hy is ‘n undercover dokter. Hy’t my die saal gewys en baie stories vertel. Sommige deure in die saal was altyd gesluit. Die staalhek was altyd gesluit en die sekuriteitswag was slegs daar in die geval van pasiënte wat uitfok.

Jy ken seker die padded kamers van die flieks, die straight jackets en wit jasse? Hierdie is nie die geval in Suid-Afrika nie. Ons kamertjies is dolleeg en het sement mure. Jy kan jouself regtig beskadig daarbinne. Jy is vry om te skree, te baklei en in my geval die hemel en hel te besoek.

Ek het G-laergrond beskou as God se laergrond. Dit is ‘n plek waar engele en demone in samewerking was. Albei help mekaar. Anything goes. Geen gedagte of idee was taboo nie. Ons, die pasiente, het nuwe, stokou kennis met mekaar gedeel. Vir ‘normale’ mense sou hierdie gesprekke nie sin maak nie. Ons het in ‘n universele taal met mekaar gepraat. Aan die begin het ek self nie eers geweet ek kan hierdie taal praat nie.

Hierdie tipe dinge kan jy nie vir die meeste medici vertel nie. Enige iets wat buite die verduideliking van die ‘realiteit’ val word beskou as fiktief. Dis ‘hallusinasies’ en ‘stemme’ wat ons breine veroorsaak. Dit kan jou nie seer maak nie, dis nie regtig daar nie. Hier het die medici dit verkeerd, maar ek het geleer om sulke goed eerder vir myself te hou. As ek hierdie nuwe gedeelte van my psige leer beheer sal ek uit hierdie plek kan kom.

Sure, die pille het gehelp, maar dis die lesse van die seniors in die saal wat my egter die meeste gehelp het. Wat ek nou gaan skryf mag ek nie. Dis niks nuuts nie, maar dis gevaarlik. Feite wat grootliks beskou word as onsin. Sommige mense glo daarin en allerhande mense het al geskryf daaroor. Baie goeie boeke bestaan hieroor, maar niemand kan dit verduidelik nie. Ek dink deur meditasie of psychedelics is hierdie dimensie bereikbaar. Sommige mense kan vrylik in en uit hierdie  manier van dink beweeg. Ek het nie ‘n keuse gehad nie, ek het ‘n crash course gekry. Dit het my brein laat bars, maar met hulp het ek begin sinmaak daaruit.

black-and-white-black-and-white-depressed-568025

————————————-

16 Februarie 2017

Sjoe, baie het gebeur vanaf ek laas hier geskryf het. Ek besef ek wou aan die diepkant inspring, al was ek nie reg om te swem nie. Een ding moet jy weet, ek stel myself hier as kwesbaar. As ek kontak verloor met realiteit kan ek baie mense ongemaklik maak en sal ek seker weer opgesluit word. Ek vrees dit nie, maar dit demper my progressie.

Vir lank sukkel ek al om hierdie verhaal in woorde te probeer sit. Gedeeltelik kan dit toegeskryf word aan vrees. ‘n Diep delwing in jou psige kan baie vreesaanjaend wees. Gedeeltelik om my familie te beskerm. Aan die einde van 2016 het ek egter ‘n besluit gemaak. Hierdie besluit is dalk so ‘n bietjie reckless, maar iets moes verander. My lewe moes verander. Ek het myself in ‘n boksie toegesluit. Ek het tevrede geraak met die psigiese tronk waarin ek myself geplaas het. Stadig maar seker het dit begin eet aan my. Die lewe was besig om my verby te loop. 2017 sal die begin wees. Enige journey is tog vol onsekerhede. Ek is onseker oor wat vir my wag, maar ek is gereed. Ek is bereid om te veg indien nodig, te huil, te lag, te leef. As ek weer toegesluit word is dit ook fine. Ek sal eventually weer as sosiaal aanvaarbaar gesien word. Contrary to popular belief, is ek wel op my medikasie. Ek eet so gesond as moontlik en rook baie. Kom ons noem maar ‘n koppie koffie en ‘n sigaret my vorm van mikro-meditasie. My gedagtes is vinnig, ek is gelukkig, ek is kwesbaar en sensitief. Dokters beskou hierdie as deel van bipolêr, ‘n hipomaniese self, maar hulle weet nie wat ek en baie ander reeds weet nie. Die manie wat moontlik volg met die gepaardgaande psigose is vir hulle ‘n gevaar. Ek sien uit daarna. Ek hoop net dit gebeur op ‘n veilige plek. Ek hoop iemand kan dit saam met my ervaar en my hand vashou daardeur, na my wyshede luister, in plaas van toesluit in ‘n donker kamer en dit te onderdruk.

————————–

20 Februarie 2017

Ek maak dit nou ‘n gewoonte om in lunch by die Wimpy te kom sit. Ek sit en skryf, luister musiek en dink. Ek mikro-mediteer oor die lewe en dink terug aan hierdie einste Wimpy waar ek ‘n paar jaar terug vreemd opgetree het.

Ek het in die hoek van die rook-area gesit en my bedanking aan Ocean Basket geskryf. Ek was egter op ‘n trip. Ek het vele kere my beursie deurgegaan en al wat ‘n kaartjie was op die tafel voor my uitgepak. Twee ouer mense het langs my gesit en ek het afgeluister terwyl die een op die foon gepraat het. My geld was ook op, so ek het gesit en water drink. Ek het die man vir ‘n sigaret gevra en hy het tentatief vir my ene gegee. Eers na die derde sigaret het hy my laat verstaan dit was nou genoeg. In hierdie tyd was ek weereens op my show. Die wêreld het om my resoneer met dit wat in my gedagtes plaasgevind het. Ek was ver buite my veilige boks, maar teen hierdie tyd het ek al geweet ek loop op baie dun ys. Die krake was reeds sigbaar en ek kon nie help om deur te kyk nie. As hierdie fase van my psigose bereik word, verdwyn my inhibisies en ek begin die streng sosiale kontrak opskeur. Dit was ook nie die eerste keer nie. Hierdie vreemde man het definitief gedink ek is op drugs, hoog, dronk of net onnodig. Eers toe ek begin speel met die tamatie- en mosterdsous het my gewag tot ‘n einde gekom. Ek het die glas met die sous in omgestamp en wou dit self skoonmaak. Ek wonder wat die kelnerin moes dink, want sy het sekerlik geweet ek werk by Ocean Basket. Sy het my oortuig om die skoonmaak eerder vir haar te los. As jy soos ek verdwaal in jou drome, sal die realiteit soms in so ‘n manier vir jou anker aarde toe. Met niks geld nie maak ek my pad werk toe vir my laaste skof.

—————————————

21 Februarie 2017

Tot op hierdie punt was my storie dalk baie deurmekaar. Ek lees baie en leer baie. Ek kyk na ander se vertellings en hulle soortgelyke struikelblokke. Hoe verduidelik mens in woorde, iets wat selfs taal en kultuur transendeer. How do you define the undefinable? Hierdie probleem is ook een van die grootste wat ek in die gesig staar. As ek terugkyk na en oor my verlede, veral tye wat ek hierdie “event” beleef het, het ek al baie daaroor geleer. Vir lank hou ek al my storie, my avontuur, my reis en die werklike betekenis daarvan ‘n geheim. Ek het die baie noue en argaïese label van “bipolar” gedra en met huiwering nou al vir twee jaar soos ‘n soet seun my pille gesluk. Ek het weggekruip vir alles en almal. My lewe was in skerwe, die storie en die waarheid om dit so te definieer, het letterlik geëet aan my psige. Sodra ek bietjie my limiete wou verryk, bring die medikasie weer na ‘n middelgrond sodat ek kan funksioneer in die normale samelewing. Veilig in die Westerse idee van die sosiale kontrak, veilig in die psigiese tronk.

Vir die afgelope drie jaar, vanaf my laaste toelating in Stikland in 2014 tot nou, stagneer my lewe nes die chemiese balans in my brein. Volgens die Westerlike mediese handboeke, word bipolêr beskou as ‘n chemiese wanbalans in die brein. Die pille hou hierdie wanbalans in beheer en tesame met gemoedstabiliseerders en anti-psigotikum bly my breingolwe in balans, genoeg om normaal voor te kom. Dis mos ‘n siekte soos diabetes, waarmee jy nie kan funksioneer sonder medikasie nie. En dit is waar dat ek almal geglo het, ek was oortuig dat hierdie label by my gepas het. Dit het egter in 2009 verander. Vir vier jaar na my diagnose het ek die pille gedrink en in my eerste jaar van universiteit het alles goed gegaan. Ons het amper vergeet van die hele label, en het dus aan die begin van my tweede jaar besluit om my medikasie te stop, met die idee dat ek dalk net een episode gehad het in my lewe. En Augustus 2009 het ek dus my laaste pil gesluk. Daar was geen meer limiterende faktore op die natuurlike formules van my brein nie. My golflengtes kon vrylik beweeg, so hoog en laag soos dit wou. Lewe was great, bipolêr was in die verlede. Eers Desember van dieselfde jaar sou ek weer hierdie demoon raakloop, op Stilbaai van alle plekke.

__________________________

21 Feb 2017

Jy gaan vinnig agterkom ek skryf nie meer volgens ‘n tydlyn nie. Daar is ‘n goeie rede hiervoor. Dit kom neer op die feit dat hierdie verhaal, hierdie berg en see van kennis, tyd bevat. In eenvoudige terme – dis tydloos. Dis oud en nuut en meestal net van toepassing nou. Die belangrikste tydfaktor is dus wat dit vir die hede beteken.

As mens probeer ek al lank om ‘n manier te vind om my kuns te deel. Ek het blogs geskryf en vele kere ‘n boek begin skryf. Eers toe ek begin terug kyk na my verlede het ek besef wat verkeerd was daarmee. Ek het myself verbind aan tyd. Eers toe ek my almanak skoongemaak het en die reëls en struktuur, die limiete van taal, kuns en kultuur gebreek het, het alles ingepas. Dinge maak nou vir my sin waarmee ek vir dekades gesukkel het. Ons almal is skuldig aan ons verslawing aan tyd, die toekoms of verlede, maar al die gelukkigste mense wat ek ken, is gelukkig in die hede. Ek sê ook nie dat die verlede en toekoms nie belangrik is nie.

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s