black-and-white-boat-darkness-748626 (1)Die jaar is 2009, Desember. Ons was ‘n groep van so 20 studente wat op jooltoer was in Stilbaai. Deur die dag het ons geld ingesamel en in die aand het ons gekuier. Vanaf Augustus is ek medikasie vry, Die volgende storie is waar, of jy dit wil glo of nie. Vir jare het ek gesukkel om hierdie verhaal reg te vertel.

Aan die einde van my tweede jaar op Stellenbosch het ons lekker gekuier en ek wou oral betrokke wees. Ek was in die proses om ‘n teaterstuk te skryf vir die 2010 toneelfees. Dit is die jaar wat ek 21 geword het.

Toe begin die jooltoer. Soos ons verder getoer het, het die kuier vermeerder en die slaap verminder. My psige was stadig, maar seker oppad na ‘n krisis. In ‘n sak, altyd aan my sy, was die lirieke van Die Heuwels Fantasties se Pille vir Kersfees album. Ek was besig om my play te skryf en het diep gedelf in die betekenis van die lirieke. Die konsep vir my play was relatief oorspronklik. Dit was ‘n dekonstruksie van al die lirieke, in ‘n dialoog tussen ‘n wyse ou man en sy seun. Ek was baie opgewonde hieroor en dit het geblyk almal wat ek vertel het het dieselfde gevoel.

Eers in Hermanus het die fyn lyn tussen realiteit en fantasie begin verdwyn. Gebeure, dinge en my konneksie daarmee het begin vreemd raak. Ek het al hoe meer ingetrek geraak by my play. Nuwe idees het so vinnig gekom, ek het gesukkel om by te hou. 13 Desember was ons oppad Stilbaai toe.

Alles was nog fine terwyl die son op was. Ek het afgedwaal van die ander en het later agter gekom hulle kyk snaaks na my. Ek het myself al hoe meer afgesonder. Die tweede laaste aand was ek in skerwe, geen sigarette, geen geld en geen hulp. Ek was alleen in my tent Ek was paranoïes oor die vreemde bakkie wat langs my tent gestaan het. Na ‘n paar ure van vrees het ek braaf geword en uit my tent geklim. Ek het weer begin dink aan my play. Ek het besluit om rond te stap. Ek was rustig en tevrede. Realiteit begin toe merge met fantasie en drome. Ek het verder gestap en tyd het verdwyn.

Ek spring oor die muur en loop kaalvoet op ‘n klipperige pad. Ek het kersfeesliggies bewonder en begin dink aan die pille wat ek nie meer drink nie. Ek raak toe die hoofkarakter in my storie. Iets wonderlik sou vir my wag sodra die gordyne toetrek. Ek dans rond en bevind myself op ‘n glyplank, met die maanligte en straatligte wat om my skyn. Ek was heeltyd op soek na iets. Op soek na mense, mense wat my verstaan, mense wat ek nog wil ontmoet en my heroes om elke hoek. Almal sou my net om die hoek verwelkom met ope arms.

Ek vind ‘n vlieër in ‘n drom, ek sien dit as ‘n simbool. Die fokus op die vlieër het my goed gedoen, en die kleure van die horison het begin verander. Ek gly af en loop tot knie diep in die see. ‘n Man kom gesels met my. Ek gaan terug na my tent. My liggaam is moeg, maar my gedagtes wawyd wakker.

Die volgende dag het redelik normaal verloop. Ek besluit om te gaan stap langs die strand. Niemand sou verstaan wat hier volg nie, fok, nie eers ek het nie. Die vorige aand was net ‘n voorsmakie. Ek gaan terug na die kampterrein. Binnekort sou ek my rol moes vertolk.

Die gebeurtenisse rondom my het begin vlamvat in my psige. Ek word die karakter in die fliek van my lewe. Ek was die middelpunt van die wêreld. ‘n Hele paar vreemde mense het die aand met my gekommunikeer. Sommige was werklik daar, ander was nie. Ek sien ‘n trailer in die kampterrein, hierdie raak my wensmasjien. Ek wens vir ‘n Hunters Gold, maar die slot keer my. Iemand se vir my om om te draai. Die kombinasie van die slot was 180. Ek maak die slot oop en vind ‘n pak Hunters. Ek sluit die res weer toe en loop weg.

Ek loop rond in die kampterrein, daar is oral mense. Hierdie mense is natuurlik my byspelers. Sommige mense was deel van my fliek, ander was nie. In my soektog vra ek vir ‘n hele paar mense: “Is daar ‘n bar waar ek kan drink waar niemand my ken nie?”. Die wat nie perplexed was nie, het my verwys na Lappiesbaai restaurant.

Ek sit daar in die bar sonder geld. Ek vra die waiter vir ‘n trippel brandewyn en coke. Ek haal nog ‘n paar lirieke aan, maar hy bring vir my die dop. Op hierdie stadium het ek sekere sosiale limiete begin toets. Ek kry ‘n sigaret by iemand, vat ‘n diep trek en sluk my dop halfpad. Ek begin teken met ‘n pen op ‘n servet. Ek skryf rympies en lirieke. Ek kon natuurlik nie my rekening betaal nie. Ek sê vir die waiter dat ek gou geld gaan haal en hy kan my foon en beursie hou as deposito.

Oppad uit trek iemand my terug. Die eienaar of bestuurder praat ernstig met my, maar ek verduidelik ek bring nou die geld. Ek klop aan ‘n huis met kersliggies, nommer 21. ‘n Klein meisie maak die deur oop en ek vertel my storie, haar pa lyk geïrriteerd, maar sy gee my ‘n 50 rand. Ek belowe ek gaan dit terugbring en gaan weer na die restaurant. Na my betaling keer dieselfde man my voor. “Is jy op drugs?” vra hy. “Nee ek skryf ‘n play en ek toets bietjie die limiete” verduidelik ek. Hy sê ek kan hom Hercules noem in my play, maar gaan aan en glo steeds ek’s op drugs. Ek stel aan hom ‘n laaste vraag: “Moet ek teruggaan na die bed waar ek slaap of moet ek verder my play uitleef?” Hy sê ek moet gaan slaap, maar ek het nie.

Ek keer terug na die kampterrein om my play verder te bou. Na ‘n paar ja-nee gesprekke met liggies, besluit ek om weer te loop. Terug na die glyplank. Terug na die speelterrein. Terug na die strand. Terug na die oop oseaan. Dit was nog vroeg in die aand en daar was baie mense op die strand. Die oomblik is groot. Ek haal my selfoon, lighter en leë beursie uit my sak uit. Ek gee dit vir vreemdelinge op die merry-go-round, met die boodskap: “Vat dit asseblief vir die Stellenbosch studente op Jooltoer in die karavaanpark. Sê vir hulle ek gaan na die bed waar ek slaap en ek het dit nie meer nodig nie. Die mense het natuurlik nie geweet wat om te dink nie.

Kaalvoet op die strand sien ek ‘n lewensredderstoel. Ek sit en skryf daarop sonder ‘n papier of pen. Ek het gepose vir kameras, ek het toneel gespeel. Die kameras was helder, maar sonder film. Ek begin weer stap. My brein raak stiller en die mense raak minder soos ek verder loop. Hoe minder mense daar was, hoe meer gesigte het begin verskyn. Gesigte uit my verlede. Ek het met hulle gesels, vrae gevra en ook gestry.

Die gesigte het verdwyn, maar stemme het gebly. Hulle het saamgespeel in my storie. Ek het nuwe karakters ontmoet. Ek sou lieg as ek sê ek was nie bang nie. Skaduwees en die donker het ook hul stem dik gemaak. Die skaduwees het hul eie bewegings en klanke gehad. Ek het gevaar beleef, die rotse het my agtervolg en figure het my gejaag. My stap het verander in drafstap en toe hardloop. Ek was oortuig die duiwel het my gejaag. Hy kon my nie vang nie.

Ek het besluit ek is oppad huistoe. Iewers langs die see het ek warm gekry en my top daar gelos. Ek het heelwat verder geloop. Teen hierdie tyd het allerhande realistiese gedagtes ook bygekom. Wat as hierdie net ‘n manie-psigose is? ‘n Simptoom van die werklike bipolariteit in my brein. Wat as alles wat ek beleef net ‘n siekte is? Hoe kan ek enige iets vertrou wat nou met my gebeur?

Langs hierdie strand is ek man alleen. Ek kan niemand buiten myself seermaak nie. Ek sal hierdie high ry en uitvind wat is op die piek daarvan. In hierdie tyd het ek iets belangrik verloor: my identiteit.

Al was ek nog teenwoordig in my liggaam het iemand, iets anders oorgeneem. Ek was ‘n passasier en kon net kyk wat gebeur. Ek het ‘n berg begin klim. Dit was seer, daar was dorings en takke. Daar was nie tyd om te dink nie, net om te klim. Ek het later moeg en stukkend bo uitgekom.

Hier het ek die natuurprag bestudeer, die sterre was ekstra helder, die figure het verdwyn, ek was veilig. Ek was terug in my eie lyf. Swak bene, gedehidreer, uitgeput, met ‘n wakker brein. Vir lank het ek gesit. Gestaar. Gekyk hoe die aarde om sy onsigbare as wentel. Alles was mooi. Lig het donker gemaak, maar vir hierdie donker was ek nie bang nie. Iets of iemand het my tot hier gebring.

Soos ek daar op die fantastiese heuwel sit, begin ek dink aan wie ek regtig is. Ek het gedink aan die karakter wat ander mense sien, die masker waarmee ek myself daagliks vermom. Die tralies van hierdie tronk is nou afgebreek en vir die eerste keer ooit voel ek vry.animal-branch-cat-35888

Terwyl ek daar sit, gebeur iets nuut. My liggaam het begin verander. My mensdom het verdwyn. Figure, donker figure, het my benader. Soos ek daar gesit het, het hierdie figure my begin omsingel. Die figure het bekend gelyk. Een het my genader. Ek wou hulle nie wegjaag nie. Die skadu se vorm was soos ‘n kat. ‘n Groot swart kat. Vreesaanjaend en amazing op dieselfde tyd. Ek het my hand uitgereik en die kat het langs my kom lê. Ek het al my braafheid saamgeskraap en met my hand die kat begin streel.

Sodra ek aan haar geraak het, het ek ‘n gedaantewisseling ondergaan. Ek het my menslike sintuie verloor. Ek het ‘n dier geword, my innerlike swart kat het my liggaam oorgeneem. Op vier bene het ek baljaar onder die maanlig saam met my nuwe vriende. Ek het vryheid beleef. Hande vier voet het ek bosse bespring opsoek na prooi, gate gegrawe en wortels stukkend gekou.

‘n Gevoel van liefde het oor my gespoel. Ek het besef ek was opsoek na my sielsmaat, in die vorm van ‘n kat. Ek sal haar vind. Hier het my verhaal weer ‘n draai geneem.

Die idee van my aksies wat dopgehou word het teruggekeer en ek het begin besef ek is nie ‘n kat nie, maar ‘n method actor. Hierdie is net deel van my amazing play. Ek het geglo die kameras is aan die rol en as ek nou karakter breek gaan ek baie mense teleurstel.

Dit het skemer geraak. As kat het ek verder langs die kant van die heuwel geklim. Ek het rond gespring op die sand en later in die see. Die vars water het my skoongespoel. Ek is gedoop soos die profete van ouds. Die vuur in my siel is geblus. Die kat het verdwyn en ‘n man het in die oseaan verskyn. ‘n Nuwe mens, ‘n nuwe man.

Hierdie is die storie van hoe ek doodgegaan het. Dit is die storie van hoe ek weer lewendig geword het. WP het doodgegaan, sy maskers is verspoel. Hy het homself verloor, God het my gevind, my hand gevat en my in dieselfde liggaam gesit. Noem dit psigose, noem dit bipolêr, delirium, wanbalans, net wat jy wil. Ek noem dit wakker word.

Soos die son opkom, was hierdie gebeurtenis nog nie heeltemal verby nie. Vanuit die oseaan tot op die strand het ek gesing. Ek het my storie voltooi. Lirieke van die Heuwels gemeng met my eie aanpassings het ek hardop uitbasuin. Ek het ‘n stok opgetel en begin skryf op die nat sand. Borge is bedank en ek het geweet hierdie is die laaste stretch van die reality show waarin ek myself bevind het. Daar was niemand om my nie. Geen teken van civilisation nie. Met hierdie alleen gevoel het my gedagtes kalmeer. Ek het vir lank gesit en kontempleer oor hoe ek gaan ontsnap. Ek het weer begin bang word, maar die vrees het darem gou verdwyn. Realiteit het stadig begin terugkeer. Ek het myself oortuig dat die voëls om my megatronies beheerde kameras is. Vir lank het ek gedink die hele omgewing is ‘n elaborate, veranderbare stel.

Die illusie van veiligheid het vinnig teruggekeer. Die play was vir my verby. Ek wou quit, maar niemand het my kom haal nie. By tye het ek geskree, uitlatings van kontrakbreek het my verlaat. My liggaam het in survival mode ingegaan. Die einde was werklik in sig. As ek hier bewusteloos sou raak, sou ek regtig dood. Gaan iemand my kom red?

backlit-beach-clouds-1142941